|
Die man wat die Helgaard Steyn-prys vir die kunste tot stand gebring het, dr.
Jan Steyn, was ‘n besonder veelsydige Suid-Afrikaner: diplomaat, parlementslid,
sakeman en boer. Sy nalatenskap is onder meer die prestige-prys wat na sy vader
vernoem is.
Johan Heinrich Steyn is op 20 April 1902 gebore, die oudste van ses kinders van
Barendina Wilhelmina (Dina) Richter en Hillegard Mulder (Helgaard) Steyn, ‘n
jonger broer van Marthinus Theunis Steyn, die laaste president van die Republiek
van die Oranje-Vrystaat.
Die Steyns, een van die Vrystaat se bekendste families, kom oorspronklik van
Swellendam, waar een van hul voorvaders die president van die kortstondige
“Republiek van Swellendam” was. Pieter Gysbert Steyn het ook die geskiedkundige
Drostdy op die dorp in 1855 gekoop en dit het in die familie se besit gebly tot
1939, toe dit aan die Unie-regering verkoop is.
Dr. Jan Steyn se oupa, Marthinus (Blinkstewels) Steyn, het saam met sy vader
waens gebou. Toe hy van die waens in die Vrystaat moes gaan aflewer, het hy daar
sy aanstaande vrou ontmoet. Sy was die dogter van kmdt. Mattheus Wessels en
Cecilia de la Rey. Na die huwelik het die egpaar hulle op die plaas
Josephinesdal, distrik Winburg gevestig, In 1858 het hy in Bloemfontein se
distrik gaan boer, maar later in Bloemfontein gewoon. Hy het as lid van die
uitvoerende raad onder verskeie Vrystaatse presidente gedien.
|
Marthinus Steyn het vyf seuns gehad, van wie een in die Anglo-Boere-oorlog
gesterf het. Die oorblywende vier seuns het almal openbare diens gelewer: die
een as president van die Oranje-Vrystaat, nog een as Volksraadslid en die ander
twee as lede van die Provinsiale Raad. Die jongste seun, Helgaard, dr. Jan Steyn
se vader, was ‘n LPR en het op ‘n plaas by Maselspoort buite Bloemfontein
geboer. Sy vrou, Dina, wat op die jeugdige ouderdom van 44 oorlede is, was die
voorsitter van die Oranje-Vrouevereniging. Sy en mev. (ds.) J.D. Kestell was die
twee hoofafgevaardigdes van die Vrystaat na die protesoptog van vroue wat met
die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog in Pretoria gehou is.
Jan Steyn, wat albei sy ouers in sy skooljare verloor het, was aanvanklik op ‘n
plaasskool voordat hy gematrikuleer het. Hy het daarna aan die
Grey-Universiteitskollege, die latere Vrystaatse Universiteit, gestudeer. Hy was
‘n kranige sportman - in een jaar die Victor Ludorum in atletiek, lid van die
eerste rugby- en tennisspan en kaptein van die hokkiespan. In dieselfde jaar het
hy ook die graad B A met lof behaal.
|
|
|