[Terug]

Toekennings - Angus Taylor



Jaar gewen: 2017  
Kategorie: Beeldhoukuns  
Titel: Dionysus  





Die internasionale befaamde beeldhouer, Angus Taylor is die 2017 wenner van die Helgaard Steyntoekenning vir die bevordering van artistieke kultuur in Suid-Afrika. Hierdie toekenning is een van die grootste pryse vir die bevordering van kuns en kultuur in Suid-Afrika. Die prys word in vierjaarlikse siklusse op 'n roterende basis toegeken vir die beste werke in literatuur, musikale komposisie, skilder en beeldhoukunstige werke. Hierdie jaar was beeldhou aan die beurt. Die prysgeld beloop ongeveer R575 000. Enige Suid-Afrikaanse gebore kunstenaar kan inskryf om vir die prys in aanmerking te kom. Die prys word toegeken vir die kunswerk wat volgens die beoordelaars die mees uitstaande en verdienstelike werk in die betrokke dissipline is. Die werk moes egter in die vier voorgaande jare geproduseer word en moet ook fisiek toeganklik wees vir die Suid-Afrikaanse publiek.

Taylor, gebore in 1970 in Johannesburg, het sy eerste groot prys in 1994 verower toe hy aangewys is as die wenner van die gesogte PPC National Young Sculptor-prys [PPS se nasionale prys vir jong beeldhouers]. Hy het beeldende kunste aan die Universiteit van Pretoria studeer en sy graad in 1997 cum laude verwerf. Taylor is algemeen bekend vir sy bydrae tot publieke kuns in Suid-Afrika. Hy kies dikwels projekte wat uitdagend is en wat nie net sy eie fisieke vermoëns in die skeppingsproses uitdaag nie, maar oor die inherente beperkings van skaal en die materiale waarvan hy gebruik maak bevraagteken. Hy is 'n groot teenstander van die oprigting van monumente en die idee dat kuns die aanskouer moet intimideer. Dit is ook sy vertrekpunt wanneer hy 'n nuwe beeldhouwerk konseptualiseer. Hy streef nie net daarna om die werk meer toeganklik vir 'n wyer gehoor te maak nie, maar ook om beeldhouwerke te skep wat dikwels 'n speelse interaksie met die aanskouer ontlok.

Volgens die Everard Read Katalogus (2002) het Taylor besef wat dit beteken om 'n Suid-Afrikaner te wees toe hy in 2001 New York besoek het. Hy het toe gesê dat 'n mens slegs poësie kan skryf in 'n taal wat jy ken. Deels om finansiële redes het hy begin om werke uit klip en grond te skep. Hy het begin om Belfast graniet en rooi jaspis te gebruik, asook die oranje grond van die Witwatersrand wat hy gebind het met 'n alumniagebaseerde fondusement. Hy staan ook daarvoor bekend dat hy graag materiale gebruik wat verganklik is en maklik weer tot niet gaan. Taylor maak dikwels gebruik van materiale uit die spesifieke omgewing waar hy werk. Sy gebruik van hierdie aardse materiale het spoedig fundamenteel tot die betekenis van die werk bygedra. Die geskiedenis van die grond – geologies en histories – spreek deur die beelde wat hy skep. Of hy nou ystererts afkomstig van meteoriete gebruik of klip of rotse van vulkaniese as, hy verbind dit met die betekenis en inhoud van die werk. Hy is selfs daarvoor bekend dat hy antieke tegnieke aanwend vir die binding van grond, soos om dierebloed, eiers en kalk te gebruik.

Die drie beoordelaars vir die prys, Angela de Jesus van die Universiteit van die Vrystaat, prof. Rita Swanepoel van die Noordwes-Universiteit en Annali Dempsey, kurator van die kunsgalery van die Universiteit van Johannesburg, was eenstemmig in hul aanwysing van Taylor se monumentale beeld met die titel Dionysus as die wenner van die prys. Die beeldhouwerk is gekerf uit Belfast grabbronet, wat meer as twee biljoen jaar oud is, en wat ook 'n besonder digte klip is wat dit moeilik maak om te kerf. Die afmetings van die terugleunende figuur is 4.1 meter hoog (hy sou 8.2 meter lank gewees het indien dit 'n staande beeld sou wees) en in breedte 6.2 meter. Die beeld weeg tussen 25-30 ton en is gesitueer op die Tokara Wynlandgoed in Stellenbosch waar dit per afspraak in groepe besigtig kan word deur IS-kunsgalery. Dit het Taylor 12 maande geneem om die beeld te voltooi, wat die konseptualisering en die modellering van die maket insluit, die modellering van 'n skaalmodel, en daarna die vergroting van die beeld tot sy werklike grootte. Daarna is die gedetailleerde elemente (soos die hande, voete, gesig, elmboë en knieë) weer in klei gemodelleer. Hierdie proses is opgevolg deur die vervaardiging van 'n staal gaasvorm wat op die klei gesweis is en wat later gebruik is om die klip te sny om die figuur te vorm. Alhoewel hierdie detailelemente in sy beeldhou-ateljee in Pretoria gekerf is, het die installering van die beeld in Stellenbosch 8 weke geduur onder verskillende weerstoestande. Die hoeveelheid tyd, fisieke arbeid en konseptualiseringsinsette in die skep van hierdie beeldhouwerk, saam met die skaal van die Dionysus, maak van Angus Taylor 'n waardige wenner van die 2017 Helgaard Steyn-toekenning vir beeldhouwerk.



Kunstenaarsverklaring deur Angus Taylor

Ek volg dikwels twee teenstrydige benaderings met betrekking tot die eksterne wêreld wanneer ek kuns skep en uitstal.

Die eerste benadering behels 'n gesonde, dog sterk, minagting vir alles buite my skeppende outonomie. Wanneer ek met plaaslike en natuurlike materiale werk het die proses heel dikwels, selfs vir my, verrassende uitkomste.

Ek begeef my in die onbekende en in die proses skep ek. Wanneer ek terugkyk op hierdie visuele manifestasies (die kunswerke) wat tydens my soektog geskep is, kan ek met redelike sekerheid bepaal of ek iets geleer het en presies wat ek in die proses ontdek het. Hierdie bakens, aanwysers of merkers, betree dan die wêreld van ander.

My eerste benadering is meer gefokus op persoonlike ontdekking. Die eksterne positiewe en negatiewe terugvoer rakende die kunswerke behoort dus op 'n afstand te bly. Daarom is entoesiastiese waardering en passievolle weersin ewe onbelangrik en irrelevant.

Aan die ander kant is die Sotho-slagspreuk Motho ke motho ka batho babang ('n mens is 'n mens as gevolg van ander mense) ook relevant, en selfs meer binne die konteks waar my beeldhou-ateljee floreer op die energie van ‘n kollektief. Mense word beskou as die mees sosiale diere op aarde en dit laat my glo dat kunswerke wat nie verstaan of waardeer word nie óf nie effektief kommunikeer nie, beskou kan word mislukte pogings. As die kunswerke jou koud laat en nie 'n enkele sinaps stimuleer óf jou maag laat draai nie, werk dit nie.

Hierteenoor kan kunswerke wat sonder woorde kommunikeer ons in staat stel om meer duidelikheid en betekenis te vind deur begrip van die intrinsieke aard van wesentlikheid oor te dra of bepeinsing te ontlok. Dit verdiep dus ons ervaring van die lewe en dít is waarna ek streef. ‘n Toekenning soos die Helgaard Steyn-prys vir Beeldhoukuns bevestig dat ek êrens langs die pad wel daarin geslaag het. Dié gedagte moedig my aan om verder te soek en te deel. Baie dankie aan die Helgaard Steyn Trust vir hierdie ongelooflike toekenning.



Die Helgaard Steyn Trust

Die Helgaard Steyn Trust het tot stand gekom uit die boedel van dr J H Steyn (1902-1983) en is na sy vader, 'n voormalige LPR van Bloemfontein en die jongste broer van die MT Steyn, die laaste president van die destydse Republiek van die Oranje-Vrystaat. Die huidige trustees is Me Hanneli Rupert-Koegelenberg, Mnr Gerard Rupert, Mnr Francois van der Merwe en ABSA TRUST LTD. Die oorhandiging van die prys roteer jaarliks tussen Bloemfontein en Potchefstroom vanweë die vorige affiliasies van die Steynfamilie met die twee Universiteite. Die NWU en die Universiteit van die Vrystaat word jaarliks versoek om elk 'n beoordelaar aan te wys om die wenner van die betrokke jaar se prys te kies. Die derde beoordelaar word deur die twee beoordelaars van dieonderskeidelik die NWU en die Universiteit van die Vrystaat aangewys. Hierdie jaar sal die oorhandiging in Bloemfontein plaasvind.

Elke betrokke jaar se benoeming word deur middel van openbare kennisgewings bekend gestel inter alia ook aan galery- en museumbestuurders en kurators. Die beoordelaars wys die wenner uit die genomineerde kunstenaars aan.