[Terug]

Toekennings - Dan Sleigh



Jaar gewen: 2004  
Kategorie: Letterkunde  
Titel: Eilande  











Vanjaar se keurders van die Helgaard Steynprys, proff. Hennie van Coller (Universiteit van die Vrystaat), Heilna du Plooy (Universiteit van die Noordweste) en Chris van der Merwe (Universiteit van Kaapstad) het vanjaar geen maklike taak gehad nie.

Die prys, wat vanjaar R60 000 bedra, word volgens die reglement toegeken aan die beste Afrikaanse werk  wat in die voorafgaande vier jaar op die oop mark verskyn het in ‘n oplaag van meer as 300.
Baanbrekende werke uit verskillende genres is vanjaar voorgelê en daar moes beslis word tussen boeke oor die sterrekunde, geskiedenis en wysbegeerte, biografieë, resepteboeke en poësie-en prosatekste.

Vesrekeie van die werke wat die kortlys gehad het, het reeds ander pryse ingeoes. So was Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie was die wenner van die RAU-prys vir letterkunde en is Ingrid Winterbach se roman, Niggie, vanjaar bekroon met Hertogprys.
Vanjaar se wenner van die Helgaard Steynprys is Eilande deur Dan Sleigh, ‘n werk wat reeds bestempel is as “monumental”, “groots” en indrukwekkend” deur kritici hier en oorsee. Die keurders was onder die indruk van die deeglike historiese navorsing wat die roman onderlê, asook van die outentisiteit en integriteit van die historiese herskepping. Sleigh gee hierdie roman blyke van ‘n deeglike vertroudheid met heersende teorieë in die historiografie, onder andere dat die weergawe en geskiedenis ‘n subjektiewe proses is wat nie so ver staan van ‘n fiksionele relaas nie, of dat die “klein geskiedenisse” van gemarginaliseerde mense die aandag verdien.

Een van die uitstaande kenmerke van hierdie omvangryke roman is die wyse waarop spanning deurgaans volgehou word en ‘n amorfe stuk geskiedenis deurgaans stewig ingebind word.  Vanjaar se wenboek is ‘n waardige pryswenner en Sleigh kan met trots sy plek inneem naas vorige wenners soos  J.C Kannemeyer, Breyten Breytenbach en Karel Schoeman.