[Terug]

Toekennings - Bronwyn Finly



Jaar gewen: 2007  
Kategorie: Skilderkuns  
Titel: All about everything (2006)  











Bronwen Findlay is pas aangewys as die wenner van 2007 se Helgaard Steynprys vir Skilderkuns vir haar werk All about everything (2006), wat deel vorm van Standard Bank se korporatiewe kunsversameling (motivering en beeld aangeheg).

Met ‘n prysgeld van R150 000 tel hierdie toekenning, wat geldwaarde betref,  onder die grotes in die SA kunswêreld. Die prys word volgens die reglement van die Helgaard Steyn Trust toegeken aan die skilder wat volgens die beoordelaars in die voorafgaande vier jaar die beste werk gelewer het. Die   prys sal op 17 Oktober op Potchefstroom aan die wenner oorhandig word.

Die beoordelaars vir vanjaar se prys was mnr John Botha, namens die Potchefstroomkampus van die Universiteit van die Noordweste, prof Dirk van den Berg, namens die Universiteit van die Vrystaat, en dr Lydia de Waal, kuratrise van die Sasol-kunsmuseum van die Universiteit van Stellenbosch.

Vorige wenners van die prys, met bekroonde werke tussen hakies, was: 1987 – Pippa Skotnes (Lament); 1991 – Nel Erasmus (Jazz baby spent autumn); 1995 – Robert Hodgins (South African summer, all this is so and yet ...); 2003 – Cyril Coetzee (T’kama-Adamastor).

Die Helgaard Steynprys vir Skilderkuns is een van vier kunstepryse wat ingevolge 'n bemaking deur die boedel van wyle dr JH (Jan) Steyn sedert 1987 jaarliks om die beurt vir skilder- en grafiese kuns, komposisie, Afrikaanse letterkunde en beeldhoukuns toegeken word.

Dr Jan Steyn, gewese LV vir Potchefstroom en direkteur van maatskappye, het bepaal dat die kunstepryse genoem word na sy vader, Helgaard Steyn, voormalige Lid van die Provinsiale Raad vir Bloemfontein en jongste broer van die laaste Vrystaatse president, MT Steyn. Die trustees van die Trust is  mev Hanneli Koegelenberg, mnr Gerard Rupert en ABSA Trust Beperk.

Uitgereik namens die Helgaard Steyn Trust deur: Hans Knoetze, Stellenbosch, tel: (021) 888 3268.