[Terug]

Toekennings - John Miles



Jaar gewen: 1992  
Kategorie: Letterkunde  
Titel: Kroniek uit die doofpot  











DIE Helgaard Steyn Prys ter waarde van R30 000 vir die beste boek in Afrikaans word vanjaar aan John Miles se roman Kroniek uit die Doofpot toegeken, het die Rembrandt Groep van Stellenbosch, wat help met die prys se administrasie, gister bekend gemaak. Dit is die derde belangrike literêre prys wat dié roman verower. In April het Doofpot die M-Net Prys van R50 000, en in Augustus die CNA Prys van R15 000 gewen.

Dit beteken die roman het vanjaar reeds R95 000 aan prysgeld verower. Die Helgaard Steyn Prys word om die beurt toegeken vir skryfwerk, skilderkuns, beeldhouwerk en musiekkomposisie, uit 'n erflating van wyle dr. Jan Steyn, in lewe LV vir Potchefstroom. Hy het dit vernoem na sy vader, Helgaard, jongste broer van pres. M.T. Steyn. Kroniek uit die Doofpot is uit 'n finale lys van tien boeke as wenner aangewys.

Die ander was Driepas (T.T. Cloete), Wordende Naak (Johann de Lange), Nag van die Clown (Abraham de Vries), Ons Is nie Almal So nie (Jeanne Goosen), Die Dokumente van Dertig (J.C.Kannemeyer), Lady Anne (Antjie Krog), Khoekoense Stamname (G.S. Nienaber), Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog (Fransjohan Pretorius) en Die Jakkalsjagter (Alexander Strachan). Vanjaar se keurders was proff. Hennie van Coller (Vrystaatse Universiteit), Jacques van der Elst (Potchefstroomse Universiteit) en Johann Johl (Randse Afrikaanse Universiteit). Die prys sal eerskomende Woensdag in die Johannes Stegmann Kunsgalery van die Vrystaatse Universiteit oorhandig word.

Die Burger 15 Oktober 1992