[Terug]

Toekennings - Peter Klatzow



Jaar gewen: 1994  
Kategorie: Komponis  
Titel: From the Poets  





PETER KLATZOW se klaviersuite From the Poets is deur die Helgaard Steyn Trust bekroon as die beste komposisie die afgelope vier jaar in Suid-Afrika. Dit is slegs die tweede keer dat die Trust 'n komponis op dié wyse vereer die vorige toekenning was in 1990, aan die Stellenbosse komponis Roelof Temmingh.

Klatzow se bekroonde werk is ge nspireer deur vier gedigte wat 'n wye spektrum Suid-Afrikaanse kultuurerfenis dek, waaronder Xhosa legende, Zulu volkskuns en die strewe na vrede onder landgenote. Die komposisie is gebaseer op die gedigte van D.J. Opperman (''Gebed om die Gebeente''), Paul du Plessis (''Dae van Winter''), R.M. Bruce (''The Watermaid's Cave'') en A.G. Visser (''Impundulu'').

Die prys van R40 000 vir komposisie is een van vier kunstepryse wat sedert 1987 jaarliks om die beurt deur die Helgaard Steyn Trust toegeken word ingevolge 'n bemaking deur die boedel van wyle dr. J.H. (Jan) Steyn. Die ander drie pryse is vir skilder- en grafiese kuns, beeldhoukuns en Afrikaanse letterkunde. Dr. Steyn, gewese LV vir Potchefstroom en direkteur van maatskappye, het bepaal dat die prys genoem word na sy vader, Helgaard Steyn, jongste broer van president M.T. Steyn.

Die beoordelaarskomitee vir vanjaar se toekenning het bestaan uit proff. Deon Lamprecht (Universiteit van die Oranje-Vrystaat), Norbert Nowotny (Rhodes Universiteit) en S.J. Jooste (Potchefstroomse Universiteit). Die prys sal later vanjaar in Bloemfontein oorhandig word. Peter Klatzow is in 1945 op Springs in die Transvaal gebore. Ná matriek het hy eers onderrig gegee by die Waterford skool in Swaziland, voordat hy na Londen vertrek het om met 'n beurs van Samro aan die Royal College of Music te studeer. Hierna het hy sy studies in Florence en Parys voortgesit onder leiding van die internasionaal befaamde Nadia Boulanger.

Sedert sy terugkeer na Suid-Afrika het Klatzow onderrig gegee aan die Salisbury Colege of Music en by die SAUK gewerk as musiekregisseur. Hy is tans adjunkprofessor in komposisie aan die Universiteit van Kaapstad. Sy loopbaan as komponis het reeds aan hom vele nasionale en internasionale toekennings besorg. Dit sluit onder meer die Koninklike Filharmoniese Prys (1964), 'n spesiale Nederburgprys in 1993, en 'n Artes saam met Veronica Paeper vir die beste bydrae tot musiek en dans in 1993.

Klatzow het verlede maand Kruik se balletgeselskap na Londen vergesel as dirigent vir Hamlet, een van die geselskap se produksies in die welbekende Sadler's Wells Teater.

Die Burger 25 Julie 1994