[Terug]

Toekennings - PG du Plessis



Jaar gewen: 2012  
Kategorie: Letterkunde  
Titel: Fees van die Ongenooides  











Die keurders van die Helgaard Steynprys vir letterkunde, proff. Hennie van Coller, Heilna du Plooy en Godfrey Meintjes het vanjaar die prys toegeken aan P.G. du Plessis vir Fees van die ongenooides.  Hierdie prys word toegeken aan die  skrywer van die beste werk van enige aard in die Afrikaanse taal wat in die  afgelope vier jaar in minstens driehonderd drukeksemplare op die oopmark te koop aangebied is. Vanjaar se prysgeld beloop R450 000 - die grootste letterkundige prys in Suid-Afrika en word moontlik gemaak deur 'n testamentêre bemaking van J H Steyn ter nagedagtenis van sy vader Helgaard Steyn.

Fees van die ongenooides handel oor die wel en wee van ’n uitgebreide Vrystaatste familie, die Van Wyks, tydens die Anglo-Boereoorlog, ’n oorlog wat in die kollektiewe psige van Suid-Afrikaners steeds ’n belangrike herinnering is. Nogtans is hierdie roman geen tipiese verhaal oor die Anglo-Boereoorlog nie omdat die aandag juis gevestig word op ongewone en onbekende fasette van die oorlogsgeskiedenis, maar veral ook omdat die vertelstyl van die roman ’n bepaalde blik op die historiese gegewens bied. 

Die kerninsidente in die verhaal handel oor dinge wat meestal onverwoord gebly het, soos verraad op politieke en persoonlike vlak, lafhartigheid waar heldhaftigheid verwag word en die rol en die lyding van swart- en bruinmense in die oorlog onder meer deur die uitbeelding van die beleg van Kimberly. Die sentrale gebeurelyn handel oor die pynlik gekompliseerde verhoudinge tussen mense wat die naaste aan mekaar behoort te wees. In die sentrum van die konflik staan die taboe van verkragting en die wanhopige hantering van die gevolglike swangerskappe, iets wat wel voorgekom het, maar verswyg word in die meeste oorlogsgeskiedenisse en –verslae. Bekende motiewe uit die oorlogsgeskiedenis word verder meestal ondermyn omdat die lyding en ontbering van die hele gemeenskap en van mense aan alle kante van die konflik uitgebeeld word. P.G. du Plessis word juis geboei deur randfigure en buitestanders en hierdie karakters se perspektief verskaf ’n eiesoortige en ongewone visie van die oorloggebeure.

Tematies gaan die roman dus oor menslike belewenis in ’n tyd van krisis, oor die ellende, die swakhede en die grootsheid waaraan die eenvoudigstes en die rykstes, die slagoffers en die indringers, gelykelik onderworpe is. Die vertelstyl in die roman is egter baie belangrik. Die gebeure in die verhaal word aangebied soos gefilter deur die psige van verskillende karakters wat as fokalisators gebruik word, maar daar is ook 'n deurlopende vertellerstem wat die afstand tussen leser en verhaalgegewe reguleer. Hierdie geobjektiveerde en die wrang humoristiese vertellerstem maak dit vir die skrywer moontlik om sowel uit te beeld as om ’n beoordeling van die gebeure te suggereer. Die verhaal vertel van 'n mensdom wie se sondes inderdaad "soos skarlaken" is, maar terselfdertyd word by die leser deernis en selfs waardering vir hierdie mense ontlok.

Hierdie roman is 'n ryk verhalende teks waarin daar met intensiteit en oorgawe vertel word. Fees van die ongenooides pas in die tradisie van die breedopgesette tradisionele roman, maar is ten diepste gemoeid met die kompleksiteite van die betekenis van die geskiedenis vir die hede en die toekoms. Hieruit blyk die skrywer se besondere sin vir die historiese.

Daar is tans reeds ongeveer 27,000 kopieë van Fees van die ongenooides verkoop wat werklik 'n buitengewone prestasie vir ’n gekompliseerde “literêre” teks is. Dit is waarskynlik die onderliggende gesprek met die hede, die kontrapuntale spel tussen verhaalgegewens en vertelstyl asook die integrasie van ’n skerp intellektuele benadering en die patos vir menslike feilbaarheid wat aan die roman sy geloofwaardigheid, oortuigingskrag en aantreklikheid verleen.

Iets oor die skrywer:
P.G. du Plessis het aanvanklik bekendheid verwerf as dramaturg, vanaf sy debuut met Die nag van legio (1969) en later met Siener in die Suburbs (1972), Plaston: DNS-kind (1973) en 'n paar satiriese dramas.  Die Hertzogprys vir drama is in 1973 aan hom toegeken vir Siener in die Suburbs  en Plaston: DNS-kind.

In die laat sewentigerjare het Du Plessis hom hoofsaaklik met kortverhale begin besig hou, en veral die reekse Koöperasiestories, wat eers as koerantrubrieke, daarna as TV-produksies en later in gepubliseerde vorm verskyn het (1980 en 1985), het groot gewildheid geniet.  In hierdie tyd het hy ook begin om ernstig vir die TV en ook filmdraaiboeke te skryf.

In 1997 verskyn Du Plessis se eerste roman, A married man's guide to adultery, 'n boek wat die erns van die dramas en die humor en magiese-realisme van die Koöperasiestories kombineer. In 2008 publiseer Du Plessis 'n tweede omvangryke roman, naamlik Fees van die ongenooides.  Voor die verskyning van die roman is 'n TV-reeks in Engels met die titel Feast of the uninvited gebeeldsaai waarin Du Plessis met dieselfde karakters ongeveer dieselfde verhaal vertel. Hoewel die TV-reeks eerste ontstaan het, voel Du Plessis volgens eie getuienis dat die verhaalgegewe en vertelling in die roman eers tot volle ontplooiing kon kom.

Die Helgaard Steyn Prys vir letterkunde word op Vrydag 3 Augustus 2012 aan PG du Plessis toegeken tydens ’n funksie te Bloemfontein.
Die oorhandiging sal gedoen word deur een van die trustees van die Helgaard Steyn Trust, mnr Francois van der Merwe.