[Terug]

Toekennings - David Brown



Jaar gewen: 1989  
Kategorie: Beeldhoukuns  
Titel: Voyage II  











DIE eerste Helgaard Steyn-prys vir Beeldhoukuns is in Bloemfontein aan die Kaapstadse kunstenaar David Brown toegeken. Brown ontvang die prys vir Voyage II, wat deur die beoordelaars aangewys is as die beste werk wat in die afgelope vier jaar in Suid-Afrika gelewer is.

Die Helgaard Steyn-prys van R16 000 vir beeldhoukuns is een van vier nuwe kunstepryse wat sedert 1987 jaarliks beurtelings toegeken word deur die Helgaard Steyn-trust, volgens 'n bemaking uit die boedel van wyle dr. J.H. (Jan) Steyn. Die eerste twee pryse, naamlik vir skilder- en grafiese kuns en vir Afrikaanse letterkunde, is toegeken aan die kunstenares Pippa Skotnes en die skrywer Karel Schoeman onderskeidelik.

Die vierde prys is vir musiekkomposisie. Dr. Jan Steyn, in lewe LP vir Potchefstroom en direkteur van maatskappye, het bepaal dat die pryse genoem word na sy vader, Helgaard Steyn, voormalige LPR vir Bloemfontein en jongste broer van president M.T. Steyn. Die trustees van die Helgaard Steyn-trust is dr. A.E. Rupert, mnr. J.A. Rupert, mnr. Anthonij Rupert en Bankorptrust Beperk. Volgens die testament moet die beoordelaarspanele vir elk van die vier pryse bestaan uit drie mense: een dosent van elk van die Universiteite van die Oranje-Vrystaat en van Potchefstroom, aangewys deur die rektore van daardie unviersiteite; die aangewese twee persone moet die derde lid aanwys.

Die beoordelaarspaneel vir hierdie toekenning het bestaan uit proff. Dirk van den Berg en Muller Ballot, onderskeidelik hoofde van die departemente beeldende kuns aan die Universiteit van Oranje-Vrystaat en van Potchefstroom, en die kunshistorikus Frieda Harmsen. David Brown is in 1951 in Johannesburg gebore en het sy kunsopleiding aan die Universiteit van Kaapstad ontvang, waar hy in 1973 'n nagraadse gevorderde diploma in beeldende kuns verwerf het. Cecil Skotnes was sy mentor vir beeldhou.

Hy was naaswenner en wenner van die kwartaallikse en nasionale Vita-kunspryse (1986, 1988 en 1989). David Brown het reeds in Kaapstad, Johannesburg (Goodman-galery) en by die Wêreld-kunsfees in Basel, Switserland, ten toon gestel (1985). Sy werk word verteenwoordig in die belangrikste openbare en universiteitskunssale in Suid-Afrika, sowel as in private en korporatiewe versamelings - plaaslik en ook in Amerika, Italië, Brittanje en Australië.

Die Burger 1989