[Terug]

Toekennings - Karel Schoeman



Jaar gewen: 1988  
Kategorie: Letterkunde  
Titel: 'n Ander Land  











DIE Vrystaat is leë landskappe vol belofte, simbole van die dood, het die Hertzogpryswenner Karel Schoeman gisteraand gesê by die oorhandiging van die eerste Helgaard Steyn-prys vir Afrikaanse Letterkunde.

Die prys, van R12 000, is namens die skrywer deur sy uitgewer, mnr. Koos Human van Human & Rousseau, op Potchefstroom in ontvangs geneem. Dis toegeken vir sy roman 'n Ander Land. In sy toespraak, wat deur mnr. Human voorgelees is, het die skrywer gesê die prys is vir hom ook om nie-literêre redes waardevol omdat dit deur 'n Vrystater ingestel is en na 'n Vrystater genoem is. Toevallig word die prys toegeken aan 'n skrywer wat daar gebore is en sterk gevoelens oor die Vrystaat koester, en vir 'n boek waarin daar 'n heel besondere simboliese waarde aan die Vrystaat gegee word. In 'n Ander Land word die Vrystaatse landskap verhef tot simbool van die dood, het mnr. Schoeman gesê.

Die Helgaard Steyn-prys is een van vier nuwe kunstepryse wat jaarliks beurtelings toegeken word deur die Helgaard Steyn-trust volgens 'n bemaking uit die boedel van wyle dr. J.H. (Jan) Steyn. Die prys is verlede jaar die eerste keer toegeken vir skilder- en grafiese werk en is gewen deur die Kaapse kunstenares Pippa Skotnes.

Die ander pryse is vir beeldhoukuns en musiekkomposisie. Dr. Jan Steyn, in lewe LV vir Potchefstroom en direkteur van maatskappye, het bepaal dat die toekennings genoem word na sy vader, voormalige LPR vir Bloemfontein en jongste broer van pres. M.T. Steyn. Die beoordelaars vanjaar was dr. Charles Malan en proff. J. van Elst en H.P. van Coller.

Die Burger 10 September 1988